Bantoevolke

Bantoevolke

Verspreiding van die Bantoevolke.
Totale bevolking: onbekend
Belangrike bevolkings  in: Groot Mere van Afrika, Sentraal-Afrika, Afrika suid van die Sahara
Taal: Bantoetale (meer as 535)
Geloofsoortuiging: Meerderheid: Christendom
Minderheid: tradisionele Afrika-godsdienste, Islam, animisme
Verwante etniese groepe: Ander Niger-Kongo-volke

Bantoevolke is ’n algemene term vir 300 tot 600 verskillende etniese groepe in Afrika wat van Kameroen tot Suid-Afrika voorkom. Hierdie groepe deel ’n taalfamilie en in baie gevalle dieselfde gebruike.[1] Daar is sowat 650 Bantoetale.

Sprekers van die proto-Bantoetaal het sowat 3 000 jaar gelede ’n millennia lange reeks migrasies ooswaarts begin vanaf hul tuisland tussen Wes- en Sentraal-Afrika, op die grens tussen die hedendaagse Oos-Nigerië en Kameroen.[2] So het Bantoevolke na Sentraal-, Suider- en Suidoos-Afrika versprei – streke waar hulle nie voorheen voorgekom het nie. Die migrante het in die proses vermeng geraak met vroeëre bewoners wat hulle teengekom het, of hulle vervang. Dit sluit pigmee- en Khoisan-bevolkings van onderskeidelik die sentrale en suidelike dele van Afrika in. Hulle het ook Afro-Asiatiese groepe teengekom wat vroeër uit Noord-Afrika migreer het.[3][4]

Individuele Bantoegroepe bestaan vandag uit miljoene mense. Onder hulle is die Ndebele en Shona van Zimbabwe met 14,2 miljoen mense; die Luba van die Demokratiese Republiek van die Kongo met meer as 13,5 miljoen mense; die Zoeloes van Suid-Afrika met meer as 10 miljoen mense; die Sukuma van Tanzanië met sowat 8 miljoen mense en die Kikuyu van Kenia met meer as 6 miljoen mense. Hoewel net sowat 5 miljoen mense Swahili as hul moedertaal praat,[5] word dit deur sowat 100 miljoen mense in Suidoos-Afrika as ’n lingua franca gebruik.[6] Dit is ook een van die amptelike tale van die Afrika-unie.

  1. Butt, John J. (2006). The Greenwood Dictionary of World History. Greenwood Publishing Group. p. 39. ISBN 0-313-32765-3.
  2. Philip J. Adler, Randall L. Pouwels, World Civilizations: To 1700 Volume 1 of World Civilizations, (Cengage Learning: 2007), p.169.
  3. Toyin Falola, Aribidesi Adisa Usman, Movements, borders, and identities in Africa, (University Rochester Press: 2009), pp.4-5.
  4. Fitzpatrick, Mary (1999). Tanzania, Zanzibar & Pemba. Lonely Planet. p. 39. ISBN 0-86442-726-3.
  5. Peek, Philip M.; Kwesi Yankah (2004). African folklore: an encyclopedia. Taylor & Francis. p. 699. ISBN 0-415-93933-X.
  6. Irele 2010

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search